Openbaring 12 (Nuwe Testament vir kinders)
Aangesien die Nuwe Testament vir Kinders*) Openbaring 12 so eenvoudig, duidelik weergee, gebruik ek dit vervolgens hierna vir hierdie doel.
*) Joubert, S. (2000, c1999). Die Nuwe Testament vir kinders in 'n taal wat hulle verstaan. Vanderbijlpark: Carpe Diem.
Openbaring 12 : Satan Probeer, maar Verloor
1–4 Ek sien toe ’n gesig in die hemel. Daar was ’n vrou. Dit het gelyk of sy die son aangetrek het, so helder het haar klere geskyn. Sy was so belangrik dat sy op die maan gestaan het. Niemand kon haar wen nie—dit kon ’n mens sien aan die wennerskroon op haar kop (die kroon was destyds soos ’n beker wat jy vandag wen). Daar was twaalf sterre op die wennerskroon wat wys dat die leiers van die kerk by haar was. Sy was op die punt om ’n baba te kry. Daarom het sy van pyn geskreeu.
Daar verskyn toe nog ’n teken of gesig. ’n Groot draak staan in die hemel. Dit was die duiwel . Hy was rooi en ’n mens kon sien dat hy net wil moor. Hy het sewe koppe met tien horings gehad. Op elke kop was daar ook ’n kroon soos ’n koning sou dra. Dit was duidelik dat die draak sterk was. Hy kon vernietigende dinge doen. Met een swaai van sy stert slaan hy ’n derde van die sterre uit die hemel uit dat hulle op die aarde val. Die draak het toe by die vrou gaan staan. Hy wou die vrou se kind doodmaak sodra hy gebore word.
5–6 ’n Seun word toe gebore. God het besluit dat hy oor al die mense in hierdie wêreld moet heers. As iemand nie na hom luister nie, sal hy hom of haar straf. Voor die draak nog kon reageer, het God die seun hemel toe gevat. Die vrou het woestyn toe gevlug. Daar het God vir haar ’n spesiale plek reggemaak. Sy het solank as wat dit nodig was (so een duisend en sestig dae) daar gebly. Daar het God haar mooi versorg.
7–9 Die draak verklaar toe oorlog in die hemel. Hy moes toe teen die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele veg. Die draak en sy engele het sleg verloor. Hulle is uit die hemel uitgejaag.
Die draak is mos die slegte slang van wie ons in die Bybel lees. Hy is die duiwel en Satan . Hy verlei mense mos altyd om verkeerde dinge te doen. Maar hy en al sy helpers is nou uit die hemel uitgesmyt.
10–12 ’n Stem uit die hemel roep toe hard: “ God het ons gered. Nou het Hy gewys hoe sterk Hy is. Hy heers oor almal. Jesus wat ons moet red, het al die mag. Die duiwel, wat dag en nag vir God vertel watter foute sy kinders maak, is uit die hemel uitgesmyt. “ Die duiwel kan die kinders van God nie meer wen nie. Nee, hulle het die duiwel behoorlik gewen. Hulle wapens was: Die bloed van die Lam; Die goeie boodskap van God en Jesus. Hulle het vir ander daarvan vertel en hulle het nie net aan hulleself gedink nie. Hulle sou selfs vir Jesus sterf.
Almal in die hemel moet bly wees. Maar vir die wêreld wag baie swaarkry … Die duiwel is baie kwaad. Nou het hy aarde toe gekom. En hy weet hy het nie baie tyd nie. ”
13–18 Die draak het die vrou wat die Seun gekry het, woedend agterna gesit. Maar die draak kon haar nie in die hande kry nie. God het haar elke keer gehelp. God het haar na ’n spesiale plek toe gevat waar Hy by haar was. Daar het Hy na haar gekyk. Hy het vir haar alles gegee wat sy nodig gehad het. Die duiwel kon daar niks aan haar doen nie.
Toe probeer die duiwel iets anders. Hy laat ’n geweldige stroom water soos ’n groot rivier uit sy mond uitbars. Hy het gehoop dit sou die vrou wegspoel. Al wat gebeur het, is dat daar ’n groot skeur in die aarde gekom het. Al die water het daarin weggeloop.
Die draak was nou eers kwaad vir die vrou. Hy het toe begin om teen al die kinders van die vrou te baklei. Dit is almal wat na God luister en in Jesus glo . Die draak het toe op die strand gaan staan.
Hierdie boek word Opgedra aan
God, wat die wat die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Seun daarvoor gegee het (lees Joh 3:16) ...
sodat ek ook een van sy genadegroep kon wees wat self gered is en...
wat die voorreg het om hierdie Goeie Nuus ook aan ander te deel.